GEPLANT BY WATERSTROME
  In Psalm 1:3 staan daar geskryf aangaande die reg-verdige: "En hy sal wees soos 'n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit."
Die regverdige is soos 'n boom by waterstrome wat altyd welig groen daar uitsien. Hy is geplant by God se voortdurende stroom water wat voed. "Maar as ons in die lig wandel (d.i. voortdurend bly wandel) soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, Sy Seun, reinig ons van alle sonde" (1 Joh. 1:7). Voortdurende kontak met God is LEWE! Psalm 92:13 sluit hierby aan: "Die regverdige sal groei soos 'n palmboom; hy sal opgroei soos 'n seder op die Libanon."
Let op: Die regverdige is geplant by waterstrome. Toe hy tot geloof gekom het en saligheid ontvang het in Jesus Christus, is hy verlos uit die mag van duisternis en oor-gebring in die Koninkryk van die Seun (Kol. 1:13). Toe het God hom geplant by water-strome sodat hy nooit weer dors hoef te kry nie (Joh. 6:35). Soos Jer. 17:7,8 dit beskryf:
"Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is. Want hy sal wees soos 'n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in 'n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie."
Die regverdiges se lewens laat 'n mens dink aan pragtige bome: hulle verskaf koelte en vrugte. Koelte vir vermoeides en vrugte (vrug van die Gees) vir dié wat geestelik honger is. Die vrug van die Gees stel die volgende mooi karaktereien-skappe ten toon: "...liefde, vreugde, vrede, geduld, vrien-delikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing" (Gal. 5:22,23).
Laat ons die beeldspraak van Ps. 92:13 verder oordink. Kenmerkende eienskappe van die palm- en die sederboom is: Die palmboom:
1) Groei ten tye van droogte omdat die wortels diep onder die grond by die waterstrome geanker is.
2) Groei regop en is toonbeeld van die eerlike, eerbare en opregte lewens van regverdiges.
3) Dra altyd vrug, tot selfs in die gryse ouderdom.
4) Gee koelte en verkwikking vir almal wat daaraan behoefte het.
Die sederboom:
1) Groei ook baie hoog en regop (30 - 40 meter) wat tekenend is van 'n eerbare karakter. 2) Groot stam (15 meter in omtrek) wat dui op 'n bestendige karakter.
3) Word tot 1 000 jaar oud wat getuig van gehardheid en deursettingsvermoë.
Die regverdige sal wees soos hierdie bome, omdat hulle deur God geplant is by waterstrome wat deur Hom voorsien word. Sy stroom is altyd bruisend en vol LEWE. Sy stroom raak nooit leeg nie. Droog ook nooit op nie. Ps. 65:10 - "Die stroom van God is vol water."
Die regverdige kan hom verlustig in die stroom van God. Soos iemand anders dit stel: The life of such a man is ever fresh and fruitful, like a deeprooted riverside tree (John MacArthur).
Ons is dankbaar teenoor Hom wat ons oorgebring het uit die dorre woestyn van sonde, ons gewas het in die bloed van Jesus, en ons geplant het by die waterstrome van die LEWE, waar ons vir Hom 'n vrugbare lewe kan lei wat Hom behaag. Aan Hom al die eer!
© Dr. JJ Venter

Indeks     Index